|

AfriForum se Coligny-tak verwyder vullis tydens #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Coligny het in Oktober ’n vullisverwyderingsprojek in Voortrekkerstraat van stapel gestuur as deel van die organisasie se jaarlikse #OnsDorp-veldtog. Die span het daagliks vullis by ondernemings in die hoofstraat opgelaai en van daar af na die vullisterrein aangery. Altesaam 30 bakkievragte vullis is gedurende die maand verwyder.

“Die munisipaliteit versuim om vullis in die dorp te verwyder wat ’n geweldige gesondheidsrisiko vir die hele gemeenskap veroorsaak. Ons het daarom besluit om self ondernemings in die hoofstraat se vullis te verwyder. Dit maak reeds ’n daadwerklike verskil en ek is trots om te sê dat die dorp al baie netjieser lyk vandat ons die projek begin het,” sê Frans Gerber, ondervoorsitter van AfriForum se Coligny-tak.

“Ons is dankbaar vir die verskil wat daar met hierdie projek gemaak word aangesien die toestand vroeër baie sleg was. Die projek is daarop gemik om volhoubaar te wees en om ’n gesonde omgewing vir almal te skep en te behou. Baie dankie aan elke onderneming vir hul betrokkenheid by die projek en vir elke AfriForum lid se finansiële bydrae wat dit moontlik maak,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Coligny-tak deur vir Frans Gerber te skakel by 083 287 6487 of SMS “Coligny” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings