|

AfriForum se COVID-19-gemeenskapsplan lewer puik resultate

Deur Johan Kruger

AfriForum het gedurende die inperking ons omvattende plan vir gemeenskappe wat gebuk gaan onder die knellende uitwerking van die volgehoue inperking weens die COVID-19 pandemie, bekendgemaak.

Die pandemie het bevestig dat gemeenskappe hulself nie kan verlaat op die hulp van die regering nie. Dit is nou meer as ooit nodig vir gemeenskappe om op ‘n gestruktureerde manier te werk te gaan om hulleself staatsbestand te maak.

Danksy vrywilligers wat landwyd by AfriForum-takke en -buurtwagte ingeskakel is, kon AfriForum te midde van die pandemie fokus op noodverligting asook die ontwikkeling van volhoubare selfbestuursmodelle te midde van die pandemie.

AfriForum se COVID-19-gemeenskapsplan fokus op gemeenskapsveiligheid, -ekonomie, -voedsel, -gesondheid en munisipale dienste in gemeenskappe.

Gemeenskapsveiligheid

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het twee hoofdoelwitte tydens die pandemie naamlik beveiliging en verspreiding.

Gemeenskapsveiligheid help met fisiese verkenning van afleweringspunte, voorsieningspunte en afleweringsroetes indien nodig. AfriForum se buurt- en plaaswagte, in samewerking met Gemeenskapsake en takke,  sal aanhou met die ondersteuning aan Solidariteit Helpende Hand met die verspreiding en beveiliging van voedsel aan hulpbehoewendes.

Gemeenskapsekonomie

AfriForum Netwerk is AfriForum se inisiatief om klein- en mediumgrootte besighede by te staan in die ekonomiese krisis voortspruitend uit die pandemie. AfriForum Netwerk bied ’n gratis platform vir besighede om die doen van onderlinge sake binne gemeenskappe en nasionaal te bewerkstellig. AfriForum Netwerk fokus ook daarop om tydens die pandemie hulp aan klein- en mediumgrootte besighede te bied deur inligting, basiese advies en toegang tot spesialiste gratis te verskaf.

AfriForum appelleer ook teen die onlangse uitspraak van die hooggeregshof wat bevind het dat ’n besigheid se swart ekonomiese bemagtigingstatus ’n oorweging mag wees wanneer regeringshulp aan ondernemings oorweeg word.  AfriForum hou vol dat ras nie ’n rol behoort te speel tydens ‘n krisis soos hierdie waar alle besighede, ongeag die ras van eienaar en die bemagtigingstatus daarvan, geregtig behoort te wees op hulp van die regering nie.

Voedselstrategie vir gemeenskappe

Takhulpfondse is gestig vir skenkings op plaaslike vlak vir spesifieke voedselnoodverligting in gemeenskappe. Honger word verlig deur voedselverskaffing uit hierdie skenkings, sowel as vanuit takfondse, terwyl individue in die Helpende Hand se maatskaplike netwerk ingebring word vir assessering en verdere toekomstige bystand.

AfriForum werk reeds hard daaraan om voedsel volhoubaar vir die afsienbare toekoms te verbou in dorpe waar landbougrond beskikbaar is of vir die doel beskikbaar gestel word.

AfriForum Gemeenskapsake het as deel van die gemeenskapsplan reeds begin werk aan ’n volhoubare strategie vir die verwerking  en verpakking van gedroogte etes. Droë, voedsame maaltye sal op die kort en mediumtermyn verskaf en geberg word met die doel om versprei te word aan behoeftiges in samewerking met die Solidariteit Helpende Hand.

Gemeenskapsgesondheid

Daar is steeds ’n groeiende behoefte aan persoonlike beskermende toerusting (PPE) by verskillende tehuise en ander instellings. Maskers, handreiniger, handskoene en ander toerusting is iets waarvoor baie instellings, wat reeds geldelik onder druk is, nie begroot het nie en nie kan bekostig nie.

AfriForum het reeds in gemeenskappe landwyd skenkings van PPE gemaak aan die SAPS, mediese personeel en aan ouetehuise.

AfriForum Gesondheidsake stel deurlopend kundigheid oor gesondheid en veral COVID-19 beskikbaar aan ons lede en takke. Dit gebeur reeds en sal meer gestruktureerd op verskeie maniere aangepak word.

AfriForum Onderwys en Jeug rol tans saam met takke maatreëls uit om skole by te staan met daaglikse toetsing vir leerders en leerkragte se temperatuur ten einde potensiële gevalle van infeksie vroegtydig op te spoor. Honderde skolehulppakkette word in terme van die gemeenskapsplan aan skole en kleuterskole geskenk om te help met die veilige heropening van skole.

Gemeenskapsdienste

Plaaslikeregering is die vlak van regering wat die grootste verantwoordelikheid dra om dienste aan gemeenskappe te lewer. Die verbrokkeling van munisipaliteite en die finansiële verknorsing waarin die meeste munisipaliteite hulself bevind, sal verhaas word deur die ekonomiese gevolge van die COVID-pandemie.

AfriForum se waterstrategie binne COVID-19 fokus daarop om binne ons vermoë skoon, drinkbare water aan die gemeenskap te verseker. Die strategie het beide ’n statiese en mobiele waterleweringselement. Veral op die gebied van vullisverwydering het AfriForum reeds loodsprojekte geïdentifiseer om vullisverwydering self te bestuur na gelang van verval van dienste in gemeenskappe.

AfriForum sal eersdaags sy eie diensleweringsmaatskappy loods, wat dit ten doel het om kapasiteit en kundigheid te ontwikkel en te mobiliseer om dienste aan gemeenskappe te begin lewer sonder dat dit afhanklik is van die staat.

Dit skep die omstandighede waarbinne AfriForum sal poog om bestaande regsruimtes te vul deur munisipaliteite te help om die dienste te bestuur. Die eerste area waarop AfriForum sal fokus is dié van openbare en privaat vennootskappe.

Die COVID-19-pandemie het ons land in ’n ongekende krisis gedompel. Vir gemeenskappe is dit ’n ongekende geleentheid om die pad na selfbestuur en staatsonafhanklikheid te begin stap. Ons gemeenskapsplan vir COVID-19 is ’n opwindende eerste stap op hierdie pad.

Soortgelyke plasings