AfriForum sê dankie aan SAPD-beampte wat beseer is tydens onluste

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het adjudant-offisier Clive Cloete van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank en sterkte toegewens met sy herstel nadat hy op 12 Julie vanjaar met ‘n byl deur betogers in Zwelihle, Hermanus, aangeval is.
AfriForum het gister ‘n sterktetoewensingskaartjie met nagenoeg 90 boodskappe vanuit die gemeenskap aan hom oorhandig. Die kaartjie bevat selfs ‘n boodskap vanuit Engeland om vir Cloete dankie te sê vir sy harde werk.
Cloete sterk tans by sy huis aan nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Dit is nog onseker wat gebeur het toe Cloete beseer is en die insident word tans deur die SAPD ondersoek.

“Hierdie tipe gebare van die gemeenskap is nodig om vir polisiebeamptes wat daagliks hul lewe op die spel plaas te wys dat ons omgee en waardering het vir hul diens aan die publiek. Ons bid vir adjudant-offisier Cloete en wens hom ‘n spoedige herstel toe,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streeksveiligheidkoördineerder vir die Wes-, Noord- en Oos-Kaap.

Soortgelyke plasings