AfriForum se Delareyville-tak verfraai park


AfriForum se Delareyville-tak het as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantinisiatief elf vaderlandswilge in ’n plaaslike park geplant . Die tak beplan ook om die park aan te neem, skoon te hou en verder te verfraai.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, het AfriForum sedert September al meer as 3 000 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie; ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Pretorius.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en twee bestuurslede wat aan weerskante van die park woon – Rassie Taljaard en Pierre du Plessis – onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” sluit Pretorius af.

Die Delareyville-tak moedig die gemeenskap aan om deel van ’n groener toekoms te word.

Soortgelyke plasings