AfriForum se Delmas-tak doen noodsaaklike onderhoud by Herfsland Aftreeoord


Herfsland Aftreeoord in Delmas het by verskeie geleenthede die plaaslike owerheid genader vir hulp om noodsaaklike onderhoud aan hul palissadeheining te doen. Daar was egter geen reaksie nie, waarna die inwoners van die aftreeoord ’n skriftelike versoek aan die AfriForum-tak in Delmas se Valke Buurtwag gerig het om hulp te vra.
Die AfriForum-tak in Delmas het besluit dat die heining noodsaaklik is vir die bejaarde inwoners se veiligheid. ’n Span werkers is daarom gereël en herstelwerk, teenroesbehandeling en ’n nuwe laag verf is op die 175 m-palissadeheining aangebring.

“Dit was verblydend om die dankbaarheid by die bejaarde inwoners te sien,” sê Carel Botha, voorsitter van die AfriForum-tak in Delmas se Valke Buurtwag. Carel voeg by dat AfriForum se Delmas-tak deur middel van verdere selfdoenaksies ’n deurlopende positiewe bydrae tot die veiligheid en behoud van Delmas en omliggende dorpe wil lewer.

E-pos Carel Botha gerus by amadwala@live.co.za om by AfriForum se tak in Delmas betrokke te raak.

Soortgelyke plasings