| |

AFRIFORUM SE DULLSTROOM-BUURTWAG HANDHAAF VERHOOGDE SIGBAARHEID MET MASSAPATROLLIE

Die AfriForum-buurtwag in Dullstroom het op 20 November ’n massapatrollie gehou om sigbaarheid in dié dorp te verhoog in aanloop tot en tydens die Kerstyd.

Die doel van die patrollie was om misdaad hok te slaan deur verhoogde sigbaarheid te handhaaf. Alle AfriForum-buurtwagte in die noordstreek gaan poog om gereeld patrollies te hou tydens die feesseisoen. Dít bied gevolglik aan AfriForum die vermoë om daadwerklike verskille in gemeenskappe teweeg te bring.

“Meer as 60 buurt- en plaaswagte neem aan hierdie inisiatief deel. Daar is meer as 2 000 patrolleerders wat hul tyd opoffer om mense se veiligheid te verseker,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Twaalf buurtwaglede het 983 km tydens die patrollie afgelê, terwyl geen ernstige voorvalle aangemeld is nie.

Tydens die patrollie het ’n wit Ford Everest op ’n treinspoor tot stilstand gekom nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Buurtwaglede het spoedig gereageer en die voertuig verwyder om ’n moontlike ontsporing te vermy.

“Dullstroom se voortbestaan is in gedrang as misdaad nie gedemp word nie. Juis daarom wil ons proaktief optree om seker te maak dat inwoners en besoekers veilig in die dorp kan voel,” sê Gerhard Delport, leier van AfriForum se Dullstroom-buurtwag.

Diegene wat by AfriForum se Dullstroom-buurtwag wil aansluit of hulp wil aanbied in verband met massapatrollies kan Delport by 083 622 4961 skakel.

Soortgelyke plasings