AfriForum se Edenvale-buurtwag werk saam om misdaad te bekamp


AfriForum se Edenvale-buurtwag het op 28 Februarie 2019 in samewerking met verskeie veiligheidsorganisasies en die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) ’n veiligheidsoperasie in Edenvale uitgevoer en op verskeie gesteelde en onwettige goedere beslag gelê.
Hierdie veiligheidsoperasie is oor die afgelope twee maande beplan, waartydens gevaarpunte geïdentifiseer en alle relevante rolspelers betrek is.
Tydens dié veiligheidsoperasie is beslag gelê op dwelms ter waarde van ongeveer R50 000, onwettige sigarette van ongeveer R25 000, gesteelde goedere van ongeveer R25 000, verskeie gesteelde voertuie en 30 platskermtelevisies.
AfriForum wil graag die volgende instansies bedank vir hul toegewydheid en samewerking om misdaad te help bekamp: AfriForum se Edenvale-buurtwag, die nasionale narkotikaspan, die nasionale misdaadintelligensie-eenheid, die EMPD se spesiale wapens- en taktiekspan (Swat), die departement van immigrasie se vervalsingseenheid, honde-eenhede, CPG, Cortax, 24/7, Mamba Sekuriteit, die EMPD se plaaslike bywetreguleringspan, Lionsgate Sekuriteit, SAICB, PTA K9, GTP Saturation Unit en Tracker Connect.

“Hierdie sukses wys dat verskillende organisasies ten spyte van moontlike verskille kan saamwerk om ’n positiewe bydrae in ons gemeenskappe te kan lewer. Saamstaan, saamwerk en saam beplan is onmisbaar om ’n verskil te kan maak, en proaktiewe optrede is nodig om misdaad te beveg,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.
“Ek glo dat ons in die toekoms net meer suksesse kan behaal en ons sal voortgaan om inligtinggedrewe aksies van stapel te stuur,” sê Linda McKenzie, voorsitter van AfriForum se Edenvale-tak.

Soortgelyke plasings