|

AfriForum se Edenvale-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Edenvale het op 14 Oktober 2019 ses bome by Hurlyvale Primary School geplant nadat die tak vroeër in September drie bome by die Laerskool M.W. de Wet geplant het as deel van dié burgerregteorganisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Peter Kingsley, voorsitter van AfriForum se Edenvale-tak, het AfriForum vanjaar meer as 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie net besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Kingsley.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die ideale geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en Hurlyvale Primary School onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sluit Kingsley af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en sodoende deel van ’n groener toekoms te word.

Stuur ’n e-pos na marie.naude@afriforum.co.za en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak se omgewingsakeportefeulje betrokke.

Soortgelyke plasings