AfriForum se Edenvale-tak skep hoop met die plant van bome


Die AfriForum-tak in Edenvale het 20 bome by verskeie kleuterskole, asook in ’n gedeelte van die vleiland in Edenvale geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplant-inisiatief vir 2018.
Volgens Gary Thomas, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Edenvale-tak, het die organisasie vanjaar landwyd meer as 3 000 bome geplant.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Linda McKenzie, ondervoorsitter van AfriForum se Edenvale-tak.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Hierdie boomplant-inisiatief bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Edenvale onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sluit McKenzie af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by dié veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.
AfriForum bedank Wildflower Nursery vir die skenking van die bome.

Soortgelyke plasings