|

AfriForum se Edenvale-tak vul slaggate in Illiondale

Die AfriForum-tak in Edenvale aan die Oos-Rand het op 30 April reuseslaggate in Priceweg in Illiondale gevul. Die pad is al lank ’n probleem vir motoriste en die burgerregteorganisasie het besluit om in te gryp. Die Edenvale-tak is besig met beplanning om te kyk hoe hulle ’n meer omvattende slaggatherstelprojek van stapel kan stuur om sodoende die paaie in die area te verbeter.

“Die paaie in Edenvale word baie deur die deur die Ekurhuleini-munisipaliteit afgeskeep en is in ’n bedenklike toestand ná al die reën wat die area die afgelope paar maande ontvang het. AfriForum se Edenvale-tak het besluit om hulle moue op te rol en self die probleem aan te pak. Ek is hoopvol dat die tak sal voortgaan om ’n nog groter verskil in hul gemeenskap te maak in die res van die jaar wat voorlê,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die paaie in Edenvale is in ’n haglike toestand, omdat die nodige instandhouding en herstelwerk nie gedoen word nie. Ons het daarom besluit om die herstel van slaggate hierdie jaar te prioritiseer en om op hierdie manier ons lede by te staan. Met hierdie projek wys AfriForum dat ons nie sal skroom om ons gemeenskap in moeilike tye te ondersteun nie,” sê Peter Kingsley, voorsitter van AfriForum se Edenvale-tak.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Edenvale-tak. Stuur ’n e-pos na voorsitter.edenvale@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings