|

AfriForum se Ellisras-buurtwag help om verdagtes aan te keer

Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het op 20 Julie 2019 in samewerking met die plaaslike GPF, die SAPD en gemeenskapslede in die vroeë oggendure twee vermeende wildstropers gearresteer.

Dié arrestasies volg nadat verskeie gevalle van wildstropery gedurende Junie in die gebied aangemeld is, waarna die buurtwag en GPF saam met die plaaslike gemeenskap gewerk het om inligting in te samel en patrollies in verskeie gebiede te verhoog. Die buurtwagte het ook saam met die SAPD aan ’n operasie beplan om verhoogde sigbaarheid te verseker.

Drie verdagtes is uiteindelik met wildskarkaste betrap, maar hulle het op die vlug geslaan. Een verdagte is egter op die toneel gearresteer. Ná ’n lang soektog het die buurtwag en GPF nóg ’n verdagte vasgetrek wat deur die SAPD gearresteer is.

“AfriForum se strukture word landwyd gevestig om op gemeenskappe se veiligheid te fokus. Hierdie is ’n goeie voorbeeld van hoe verskillende strukture kan saamwerk om misdadigers van die gebied te ontsê,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

 

“Dit is werklik belangrik vir die hele gemeenskap om saam te staan en saam te werk teen misdaad. Ons moedig alle strukture aan om saam te werk omdat dit na meer suksesse sal lei,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Soortgelyke plasings