|

AfriForum se Fichardtpark-tak verwyder bye

Die AfriForum-tak in Fichardtpark, Bloemfontein, het op die 29 Oktober 2021 met die hulp van Bee Removals bye in Spangenbergstraat voor Laerskool Fichardtpark verwyder. Die bye het in ’n waterkraan nes gemaak en vier byekorwe wat in die waterkraanboks was, is versigtig uitgehaal en na ’n meer geskikte omgewing geskuif wat nie ’n risiko vir inwoners inhou nie.

“Bye is baie belangrik vir ons omgewing en ekonomie en is oor die algemeen baie rustig. Ons bekommernis was egter dat as die bye gesteur word, dit ’n groot risiko vir voetgangers en selfs diere kan inhou. Baie mense is ook allergies vir bye en die kans dat hulle teenmiddels het vir ’n bysteek is nie altyd ’n gegewe nie. Ons wil ook voorkom dat die kinders in Fichardtpark veral by die laerskool nie moet seerkry nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Volgens Roy Ashman, eienaar van Bee Removals, kan die gemeenskap die volgende wenke ingedagte hou indien ’n kolonie bye gewaar word:

  • Moenie nader aan die nes beweeg nie. Beweeg eerder stadig weg en observeer en luister na die bye se gedrag.
  • Moenie die bye probeer wegslaan nie aangesien dit hulle meer aggressief maak.
  • Moenie voorwerpe na die bye toe gooi nie.
  • Moenie vuur naby ’n byekorf neem om dit te brand nie.
  • Moenie bye probeer vergiftig nie.
  • Moenie bye verwyder indien jy nie opgelei is om dit met die regte uitrusting te doen nie.

Indien jy deur bye aangeval word, beweeg weg van die bye (onthou om hulle nie te slaan nie), bedek jou gesig en hou jou mond toe terwyl jy wegbeweeg. Probeer om so ver as moontlik weg van die bye af te beweeg tot by ’n gebou waar jy die deure en vensters kan toe maak.

Indien ’n by jou sou steek, verwyder die angel so gou as moontlik deur dit met ’n dun, plat voorwerp uit te skraap en nie aan die angel se gifsak te druk nie.

Sluit vandag nog by AfriForum in Bloemfontein aan: SMS “Bloemfontein” na 45344 (R1) en word deel van die verskil.

Soortgelyke plasings