|

AfriForum se ForumTV breek deur kommunikasiegrense

Die inligting- en kommunikasie-rewolusie is nie verby nie. Dit het nou eers werklik begin.

Só meen Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en uitvoerende hoof van ForumTV, ’n nuwe aanlynplatform waar belangrike inligting wat vir AfriForum-lede van waarde is, in videoformaat op die internet beskikbaar gestel word.

“Die wêreld van media en inligting soos ons dit ken, gaan nooit weer dieselfde wees nie en dit is waarom AfriForum se kommunikasie- strategie op twee bene staan. Ons glo daarin om goeie verhoudings met die media te handhaaf maar om terselfdertyd ook in ons eie kommunikasievermoë te belê om sodoende kommunikasie tussen AfriForum, sy lede en Afrikaners in die algemeen te versterk.”

Daarom het AfriForum besluit om ForumTV van stapel te stuur.

Met ForumTV sal jy op hoogte gehou word van inligting wat met jou burgerregte verband hou deur ’n verskeidenheid vlymskerp sosiale kommentaar- en aktualiteitprogramme wat op die man af is. Elke week neem die aanbieders plaaslike kwessies krities onder die loep en word die publiek uitgenooi om op hul multimedia platform aan die debat deel te neem.

ForumTV bied tans drie programme aan wat fokus op diverse politieke en sosiale kwessies, insluitend grondhervorming, plaasmoorde, korrupsie en burgerregte. Die programme is:

Feiteblad

Feiteblad word deur AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof Ernst Roets aangebied en is ’n deurtastende kommentaarprogram waar hy eerlik en op die man af is in sy ontleding van aktuele Suid-Afrikaanse kwessies met onderwerpe soos Hoekom demokrasie ’n mislukking is, Radikale ekonomiese transformasie, Versoening: die gonswoord en Haatspraak en sy dubbele standaarde.

Konteks

In Konteks word onderhoude met denkleiers, akademici, skrywers, glanspersoonlikhede, politici en aktiviste oor brandende kwessies gevoer. Bekendes wat al deel van die program was, sluit in die akteur en sanger Bouwer Bosch, Solly Msimanga, burgermeester van Tshwane, dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), en die sanger en akteur Steve Hofmeyr.

#Politiesinkorrek

#Politiesinkorrek word deur AfriForum se woordvoerder Monique Taute aangebied en is ’n tong-in-die-kies Afrikaanse kommentaarprogram wat fokus op jeugverwante kwessies. Taute se vlymskerp kommentaar in haar bespreking van temas soos wanbesteding, onderwys en korrupsie maak #Politiesinkorrek ’n aanloklike program.

Nuwe, opvoedkundige kinderprogramme en Bybelstories is ook in die pyplyn by ForumTV.

“Ons steur ons nie aan politieke korrektheid, samesweringsteorieë, skinderstories of wat die wêreld aan ons voorskryf nie. By ForumTV praat ons onbeskaamd oor harde kwessies,” sê Roets.

Soortgelyke plasings