AfriForum se Gansbaai-buurtwag spoor gesteelde motorfiets op


Die AfriForum-buurtwag in Gansbaai het tydens ’n patrollie op 12 September 2017 ’n motorfiets opgespoor wat op 9 September vanjaar by die Gansbaai-polisie gesteel is.

“Ons patrolleerders het Dinsdagaand omstreeks 22:00 ’n man gewaar wat sonder ’n valhelm op ’n motorfiets in Gansbaai rondry,” sê Johan Pieterse, voorsitter van AfriForum se Gansbaai-buurtwag. “Die patrolleerders het hom dopgehou en hom later in Kusweg genader waar hy langs die motorfiets gesit het. Die buurtwag het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geskakel en hulle het die verdagte gearresteer en die motorfiets, wat aan kapt. Muneeb Africa van die plaaslike polisiestasie behoort, gekonfiskeer,” sê Pieterse voorts.
“AfriForum is baie trots op die buurtwagte van die groter Gansbaai-gebied wat sedert hul stigting al verskeie suksesse behaal het. Hierdie sukses is weer eens ’n bewys van die welslae wat behaal kan word indien die gemeenskap betrokke raak en saam met die SAPD werk,” sê Elmarie van Dalen, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak.
“Die verdagte word volgens sy ouers al vir ’n paar dae van sy ouerhuis vermis en hulle is baie verlig dat die buurtwag hom opgespoor het,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.

Sluit vandag nog by ’n buurtwag in die Overstrand-gebied aan: skakel Elmarie van Dalen by 079 366 1000.

Soortgelyke plasings