|

AFRIFORUM SE GAUTENG-BUURTWAGTE NEEM DEEL AAN NASIONALE PATROLLIE

AfriForum se buurtwagte in Gauteng het op 12 Maart 2021 in hul onderskeie gebiede aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskappolisiëringsforums, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies aangepak.

Altesaam 548 AfriForum-lede en 390 ander patrolleerders het 22 533 km met 489 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 voortgeduur. Die buurtwagte het hulp met 102 voorvalle verleen. Bystand is verleen met die vastrek van roekelose en dronkbestuurders; talle motorongelukke; verskeie padblokkades waartydens mense vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is; en ’n geval waar twee mense deur weerlig getref is.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Gauteng-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en veiligheidsinstansies hok te slaan. Ons het ook gesien dat samewerking met verskillende rolspelers daartoe bydra om misdadigers af te skrik,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Gauteng.

“AfriForum se buurtwagte fokus nie net op sigbaarheidsinisiatiewe nie, maar verseker dat ander aksies plaasvind om gemeenskappe se weerbaarheid te verbeter, asook om verhoudings met ander rolspelers te vestig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jóú dorp veilig te maak: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings