|

AfriForum sê “Genoeg is Genoeg” nadat 13 provinsiale departementshoofde R11,63 miljard vermors

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum se nasionale veldtog oor die wanbesteding van belastinggeld, “Genoeg is Genoeg”, is vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion bekend gestel.

As deel van dié veldtog gaan die burgerregte-organisasie oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999 teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word. 

“Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ’n voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die wet nakom nie,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

“Ons is genoop deur die huidige klimaat in ons land om hierdie veldtog te begin en ons wil bydra tot die oplossing om sodoende korrupsie in die land help beveg.”

AfriForum het die OG se gekonsolideerde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudituitkomste vir die 2014/2015-boekjaar geraadpleeg om 13 provinsiale departemente te identifiseer wat die meeste belastinggeld wanbestee het. Die departemente is geïdentifiseer as die hoofbydraers tot onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes. Volgens die verslag is altesaam R11,63 miljard vermors.

AfriForum het ook die jaarverslae van die onderskeie departemente bestudeer, wat onderskeidelik die departement van paaie en vervoer, gesondheid, onderwys en menslike nedersettings is. Van dié vier is die departement van paaie en vervoer volgens die OG-verslag die grootste sondaar. Onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes vir dié departement beloop R2,19 miljard.

“Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld,” het Taute gesê.  Sy meen die departementshoofde het versuim om die wanbesteding van belasting geld te voorkom en skuldige partye aanspreeklik te hou. Volgens artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, is departementshoofde verplig om volledige rekords van die departement se finansiële sake in ooreenstemming met die voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde te hou.  Taute sê ook hoewel daar nie een van die gelyste departemente in die Wes-Kaap is nie, beteken dit nie noodwendig dat daar geen geld in dié provinsie wanbestee is nie.

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, sê dat AfriForum die regte benadering volg deur strafregtelike klagtes teen die departementshoofde in te dien.

“Dit is tyd dat iemand die staat  tot verantwoording roep. Dit is alle Suid-Afrikaners se belastinggeld wat wanbestee word.”

Hy sê voorts dat dit onaanvaarbaar, maar tog nie verbasend is dat só baie vermors is nie. “Korrupsie is ʼn siekte in ons land. Op die hoogste leierskapsvlak word geld deur ons president wanbestee en die parlement het as hoof toesighouer ook versuim om hom aanspreeklik te hou.”

Op die vraag of die wanbestee van belastinggeld kiesers se stem in die opkomende provinsialeverkiesing sal beïnvloed, sê Willemse dat die fokus moet wees om die regte inligting oor te dra en op die tafel te plaas.

“Kiesers verdien om met feitlike inligting gekonfronteer te word en die inligting self te interpreteer. Hierdie tipe veldtog gaan egter daaroor om die regte ding te doen, nie oor politiek nie.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.waarvoorbetaalons.co.za te onderteken. Sodoende sal die saak versterk word.

 

Soortgelyke plasings