|

AfriForum se George-tak hou #VegEnBou-week

Die AfriForum-tak in George het van 25 tot 29 Oktober 2021 verskeie projekte aangepak as deel van die organisasie se #VegEnBou-week.

Die organisasie se munisipale ouditverslag vir die Wes-Kaapse munisipaliteite is op 25 Oktober bekendgestel. Volgens dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, kan die Wes-Kaapse munisipaliteite in die algemeen spog oor hul toestand.

Die George-tak het ’n goedvoelprojek by Huis JJ Watson gehou waartydens verwerk gedoen is en ’n muur wat afdop voorberei is sodat dit ook geverf kan word. Die tak het ook ’n sosialehardloopgeleentheid gehou in samewerking met GTR. Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder en bekende veldwedloopatleet (trail run) wat onlangs die Otter-roete gewen het, het dié hardloopgeleentheid saam met ongeveer 60 plaaslike atlete bygewoon.

’n Veiligheidsvergadering is op 28 Oktober saam met verskeie veiligheidsrolspelers gehou. Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuur by AfriForum het onder meer vertel wanneer foto’s en videos van verdagtes versprei mag word en wat die gevolge daarvan kan wees. Johan Kloppers, ’n slagofferondersteuner by die AfriForum Traumaeenheid, het van dié geleentheid gebruik gemaak om mense meer oor die eenheid en die werk wat hulle doen te vertel.

“Een van ons grootste probleme is geringe misdaad alhoewel geweldsmisdaad toeneem wat kommerwekkend is. Rooftogte en gewapende rooftogte vind ook al hoe meer plaas. Ons het die afgelope tyd gelukkig nie plaasaanvalle gehad nie, maar ons is steeds baie bekommerd daaroor. Daarom berei ons voor om plaasaanvalle af te weer en om ons mense weerbaar te maak. Dit is ook vir ons baie belangrik om saam met die veiligheidsrolspelers en die SAPD te werk om misdaad hok te slaan,” sê Eduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak.

Die week is afgesluit met ’n sake-ontbyt waar daar oor verskeie politieke en munisipale kwessies gepraat is. Die tak gaan ook op 8 November klimrame oprig by die parkie wat aan Newtonstraat grens en die parkie opknap. Inwoners wat graag betrokke wil raak, kan vir Naudé bel by 082 563 1439.

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap moet die Wes-Kaapse takke ander maniere gebruik om mense te bereik. “Ons het nie noodwendig paaie wat herstel moet word nie of dienste wat nie gelewer word nie. Ons rol moet juis wees om hande te vat met plaaslike owerhede om seker te maak dat dienste steeds gelewer word en om hulle verantwoordbaar te hou indien dit nie gebeur nie sodat ons waarde kan kry vir ons belastinggeld. Ons werk graag saam met die plaaslike owerhede om ’n beter toekoms vir almal te bewerkstellig.” Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS “George” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings