| | |

AfriForum se George-tak sien om na bejaardes

Die AfriForum-tak in George het op 17 en 20 Julie 2020 die taknoodfonds gebruik om noodsaaklikhede vir drie ouetehuise aan te koop. Huis JJ Watson, Rosemoor-ouetehuis en Tuiniqua Versorgingsentrum het handreiniger, handskoene, gesigmaskers, ’n bloeddrukmeter, asook voedsel en persoonlike benodighede ontvang. AfriForum se COVID-19-taakspan in die Wes-Kaap het ook aan dié tehuise nartjies geskenk om sodoende te help om die bejaardes se immuunstelsels te versterk. Die tak kon die taknoodfonds gebruik danksy skenkings vanuit die gemeenskap aan dié fonds.

“Dit is vir ons in George waarlik ’n voorreg om by hierdie wonderlike inisiatiewe betrokke te wees. Ons is baie dankbaar dat die gemeenskap ons met hul bydraes vertrou en werk deurentyd hard om daardie vertroue te regverdig ten einde vir almal ’n vry, voorspoedige en veilige toekoms in Suid-Afrika te verseker,” sê Marius Venter, voorsitter van AfriForum se George-tak.

“Danksy bekwame leierskap het die George-tak werklik tydens hierdie COVID-19-pandemie na vore getree as ’n toegewyde rolspeler in die gemeenskap. Dit maak ons trots om te weet dat die tak inspring om hoop in die gemeenskap te skep,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se George-tak betrokke: SMS “George” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings