|

AfriForum se Grootoog-buurtwag verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se Grootoog-buurtwag in Keimoes het op 16 November 2019 in samewerking met die plaaslike SAPD aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem.

AfriForum het op 30 Oktober 2019 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoësigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

Altesaam 16 buurtwaglede het in sewe voertuie 162 km afgelê saam met ses polisiebeamptes. Een persoon wat oproerig en vermoedelik onder die invloed van drank was, is in hegtenis geneem.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul omgewing te beveilig,” sê Jacobus Pool, voorsitter van AfriForum se Grootoog-buurtwag.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings