AfriForum se groter Brandwag-plaaswag ontvang veiligheidsopleiding


AfriForum se Mosselbaai-tak het die afgelope naweek reaksiemagsopleiding vir 12 boere van AfriForum se groter Brandwag-plaaswag aangebied, wat die Brandwag-, Leeukloof/
Hamerkop- en Ruiterbos-gebiede insluit.

“Die doel van hierdie opleiding is om AfriForum se plaaswagreaksiespan, wat dikwels eerste by plaasaanvalle of verwante tonele aankom, op te lei om hierdie situasies te hanteer totdat die polisie opdaag,” sê Murray van der Merwe, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Mosselbaai-tak.

Phillip Goodger en Joe Geldenhuys van Tiger Kai Krav Maga het die opleiding Vrydag met ’n insiggewende lesing oor selfverdediging by ’n misdaadtoneel geopen. Hierna het ao. Botha en lt.kol. Meiring van Dagamaskop-polisiestasie praktiese opleiding oor misdaadtoneel­beveiliging vir die kursusgangers gegee.
Ses instrukteurs van Tiger Kai het Saterdag verdere reaksiemagsopleiding aangebied. Daarna het Ronél en Thys Steenkanp van SHE CAT eerstehulpopleiding vir mense wat eerste by noodtonele opdaag, aangebied. Die kursus is op Sondag met praktiese oefening op die skietbaan onder die toesig van Tiger Kai se instrukteurs afgesluit.

“Ná hierdie geslaagde paar dae van intensiewe opleiding is ons positief dat die reaksiemag tydens ’n insident op ’n plaas hulself suksesvol sal kan handhaaf totdat die SAPD opdaag,” sluit Van der Merwe af.

Om by AfriForum betrokke te raak, stuur ’n SMS met jou naam en “Mosselbaai” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings