|

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag verwyder daggaplantasie

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag in Pretoria het op 27 Maart 2022 ’n daggaplantasie tussen 24ste- en 25ste Laan en Hertzogstraat uitgehaal. Die dagga word oop en bloot verhandel en die spruit word as ’n hidroponiese kwekery daarvoor gebruik. Al die daggaplante in hierdie gebied is vernietig.

Dié buurtwag ontvang dikwels klagtes vanuit die gemeenskap dat sluipslapers in hierdie gebied glo dwelms aan skoolkinders verkoop en doen alles in hul vermoë om hierdie probleem uit die weg te ruim.

’n Groot hoeveelheid hoesmiddelbotteljies word ook gereeld in die gebied gevind. Sekere hoesmiddels bevat dekstrometorfan wat hallusinasies veroorsaak indien dit op ’n sekere manier gebruik word. Hierdie middel is veral gewild onder tieners.

“Ons sal aanhou om hierdie aksies uit te voer om die gemeenskap te beveilig. Ons wil mense aanmoedig om by die buurtwag betrokke te raak sodat ons ’n veilige omgewing vir almal kan verseker,” sê Andries Opperman, lid van AfriForum se Groter-Moot-buurtwag.

Sluit vandag nog by AfriForum se Groter-Moot-buurtwag aan: SMS “Groter-Moot” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings