|

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag vind vermoedelik gesteelde items terug

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag het op 10 Maart 2022 ’n sigbaarheidspatrollie gehou toe alarms ongeveer 02:00 Vrydagoggend in die buurt afgegaan het. Een van die buurtwag-spanne, wat verantwoordelik was vir die sigbaarheidspatrollie, het bymekaar gekom en nadat hulle instruksies van die buurtwagspan se leier gekry het, na die onderskeie kernpunte beweeg.

Van die patrollielede het in die spruit by 33ste laan inbeweeg en ondersoek ingestel nadat sakke onder die plante ontdek is. Dié sakke het huisware en nuwe gereedskap ingehad wat in handdoeke toegedraai is.

Terselfdertyd was nog een van die buurtwag se spanne by ’n ander misdaadtoneel in Kuskoraal in Môregloed waar die SAPD, KPS-sekuriteit en Dakar-sekuriteit twee vermeende huisbrekers gearresteer het. Die buurtwaglede het die polisie ingelig oor die vermoedelik gesteelde goedere wat in die spruit gevind is en die SAPD daarheen geneem.

Dié goedere kan moontlik met die inbrake in Kuskoraal verbind word nadat daar daardie nag by twee huise ingebreek is.

“Die hoë sigbaarheid van die buurtwag help om misdaad in die gebied te voorkom. Ons is baie dankbaar teenoor die buurtwaglede wat hul tyd opoffer om ’n verskil te maak en hul woonbuurt veilig te hou. Ons is ook bly om te sien dat die harde werk van die tuinspan die buurtwag help om in spruit te kan patrolleer. Ons doen ’n beroep op lede van die gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Sluit gerus by dié buurtwag aan met ’n maandelikse vrywillige bydrae deur op die gratis Telegram-toep ’n kort verifikasie te doen by https://t.me/AfriForumBuurtBot of SMS “Groter-Moot” na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings