|

AfriForum se Groter Moot-tak spog met vier noodwaterpunte

AfriForum se Groter Moot-tak het vier noodwaterpunte vir die Moot-gemeenskap opgerig om water aan die gemeenskap te verskaf in tye van nood. Dié projek is van stapel gestuur aangesien die Tshwane-metro meer gereeld waterbeperkings in die omgewing instel en die gemeenskap se toegang tot lopende water inkort.

Die vier waterpunte is by Laerskool Pierneef, Laerskool Wonderboom-Suid, Laerskool Villieria en Innesdale Sportklub geleë. Die waterpunte het elk ’n 5 000 liter tenk wat met boorgatwater volgemaak word en is beskikbaar vir gebruik wanneer daar watertekorte is. Hierdie water kan dan vir onder meer huishoudelike gebruik aangewend word.

IIndien daar watertekorte in die Moot ontstaan, sal die bestuur van AfriForum se Groter Moot-tak die gemeenskap op die gepaste groepe in kennis stel watter van die vier punte oop sal wees.

“Die sukses en volhoubaarheid van dié projek maak staat op die gemeenskap se betrokkenheid. Ons doen ’n beroep op die Moot-gemeenskap om AfriForum se Groter Moot-tak te kontak indien hul ’n bydrae kan lewer. Veral mense met toegang tot boorgatwater kan in noodsituasies ’n groot bydrae maak om ons te help,” sê Sampie Steinberg AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Die tak wil graag al die rolspelers bedank wat hierdie projek moontlik gemaak het.

Sluit gerus by dié tak aan met ’n maandelikse vrywillige bydrae deur op die gratis Telegram-toep ’n kort verifikasie te doen by https://t.me/AfriForumBuurtBot of SMS “Groter Moot” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings