AfriForum se Groter Pretoria-takke dien kommentaar in tydens GOP-proses vir Tshwane Metropool


AfriForum se Groter Pretoria-takke het as deel van AfriForum se nasionale GOP-projek die afgelope maand kommentaar ingedien op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).

Kommentaar op die GOP is van kardinale belang sodat probleme wat die gemeenskap ervaar aandag kan geniet en omdat dit die publiek se deelname in die begrotingsproses tot en met 2020 vervat. Die takke het verfynde insette opgestel oor probleme in die onderskeie gebiede wat dringende aandag verg. ’n Spesialis is ook aangestel om op munisipale uitgawes, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede te fokus.
Die sluitingsdatum vir kommentaar was 26 April 2019.

“Dit is baie belangrik dat gemeenskapslede kommentaar indien sodat hulle insae kan hê oor hoe en waar hul belastinggeld gebruik word, sowel as beplanning en die ontwikkeling van gebiede en grond in hul direkte omgewing,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak: SMS “GOP” na 45341 (R1), óf stuur ’n e‑pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings