| | |

AfriForum se Groter Pretoria-takke voorsien hulppakkette aan 58 skole

AfriForum se Groter Pretoria-takke het 58 hulppakkette aan skole in die area versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek. Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.

Die pakkette is onder meer aan Hoërskool Erasmus, Laerskool Du Preez van Wyk, Nooitgedacht Akademie, Aletheia Christelike Akademie, Laerskool Balmoral, Laerskool Simon Bekker, Laerskool Rayton, Hoërskool Wonderboom, Laerskool Pierneef, Laerskool Mayville, Laerskool Wonderboom-Suid, Laerskool Tuine, Hoërskool Tuine, Gekombineerde Skool Dirk Postma, Laerskool Menlopark en Confidence College voorsien.

“Dit is belangrik dat ons hande vat om skole tydens die pandemie te ondersteun. AfriForum staan saam vir skole en beskou hierdie pakket as ’n noodsaaklikheid vir alle skole om veilig voort te gaan met hul werksaamhede. Ons is bly dat ons skole op hierdie manier kan bystaan om onderwysers en leerders se veiligheid te help verseker,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum het baie versoeke van skole ontvang omdat hulle onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se takke aan die skoleprojek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig terug kan keer skool toe om die 2020 akademiese jaar te hervat.”

AfriForum het reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole landwyd versprei.

AfriForum se Groter Pretoria-takke wil graag nóg skole ondersteun in die uitdagende tye wat voorlê om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die takke moedig gemeenskappe daarom aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS jou naam na 45341 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings