|

AfriForum se haatspraak-saak teen BLF duur voort

AfriForum was vandag in die gelykheidshof in Johannesburg in die burgerregteorganisasie se haatspraaksaak teen Black First Land First (BLF) en dié organisasie se leier, Andile Mngxitama. Die hofsaak is onbepaald uitgestel omdat verrigtinge nie vandag voltooi kon word nie. Die hof sal binnekort ’n hofdatum vasstel.

Die saak het vandag begin met beeldmateriaal van Mngxitama se toespraak, sowel as ’n video van ’n plaasaanvalslagoffer wat haar storie vertel. Daarna het Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, as deskundige getuie sy getuienis in die hof begin.

“Volgens AfriForum is hierdie ’n duidelike voorbeeld van haatspraak. Hoewel ’n organisasie soos BLF se steun weglaatbaar klein is, is dit belangrik om ’n boodskap uit te stuur dat mense wat hulself as verhewe bo die reg beskou, nie met sulke tipe uitsprake kan wegkom nie,” sê Roets.

AfriForum het in Desember 2018 klagtes teen Mngxitama ingedien nadat hy tydens ’n toespraak in Potchefstroom die moord op wit mense aangehits en plaasaanvalle aangemoedig het.

“We’ll kill their children. We’ll kill their women. We’ll kill anything that we find on our way… We’ll kill their dogs. We’ll kill their cats. We’ll kill anything that comes before us,” het Mngxitama onder meer gesê. Hy het aangevoer dat sy organisasie vyf wit mense sal vermoor elke keer wanneer ’n swart persoon in Suid-Afrika vermoor word. Mngxitama het verder aangevoer dat sy organisasie besig is om 50 000 soldate vir hierdie doel te mobiliseer.

Soortgelyke plasings