AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag staan SAPD in reusedeurbraak by


Die AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein het op 16 Februarie 2019 die SAPD bygestaan tydens ’n klopjag waar beslag gelê is op gesteelde goedere ter waarde van bykans R1 miljoen.

Dít volg nadat die SAPD inligting ontvang het van persone wat met materiaal soos koper en goud in Hartbeesfontein handel dryf. Dié goedere is moontlik deur diefstal en onwettige mynaktiwiteite bekom. Koper met ’n geskatte waarde van R500 000, asook gouderts van om en by R300 000 is op die perseel gevind en gekonfiskeer. Daar is verder ook op twee Ford Ranger-bakkies beslag gelê. Die verdagtes het tydens die klopjag gevlug en ’n soektog is met die hulp van die Hartbeesfontein-buurtwag geloods. Buiten vir twee verdagtes wat ontsnap het is verskeie arrestasies uiteindelik uitgevoer.
AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag het die SAPD op verskeie ander maniere tydens die klopjag bygestaan – onder meer deur paaie te sluit, die misdaadtoneel te bewaar en hul voertuie beskikbaar te stel om die gekonfiskeerde goedere na die Klerksdorp-polisiestasie te vervoer. Hartbeesfontein Landelike Veiligheid het ook bystand gelewer deur sekuriteitskameras in en om die dorp te moniteer.
Kapt. A.N. Moleleki, stasiebevelvoerder van die Hartbeesfontein SAPD, het ’n skrywe aan die AfriForum-buurtwag gerig waarin hy hulle vir hul bystand bedank en hulle loof vir hul bekwaamheid en professionele optrede tydens die insident.

“Baie dankie aan elke individu wat deur die loop van die aand kom help het. Ons buurtwag beweeg van krag tot krag, danksy elkeen se onbaatsugtige opoffering. Ons sien daarna uit om nog baie sukses in samewerking met die SAPD te behaal,” sê Peet Naude, voorsitter van AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag.

SMS “Buurtwag” na 31481 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings