|

AfriForum se Hartbeespoort-tak blus brand in Schoemansville

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het op 11 Augustus ’n brand langs die Oewerklub in Schoemansville geblus. Die tak se splinternuwe waterkar is gebruik om hulp te verleen tydens dié noodsituasie.

“Ons het om 14:00 ’n oproep van die Schoemansville Oewerklub se bestuur ontvang wat ons hulp dringend versoek het nadat hulle opgemerk het dat die rietbosse naby die klub aan die brand was. Die brand sou groot skade aanrig, maar ons was binne tien minute op die toneel om die brand te blus en skade is dus voorkom,” sê Christian Venter, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Hartbeespoort-tak.

Die nuwe waterkar sal ook deur die tak gebruik word om water aan die gemeenskap te voorsien tydens ander noodgevalle. Dit bevat ’n 1 000 liter-watertenk en is vir sowat R40 000 aangekoop.

“Die projek is hoofsaaklik geloods omdat die toestand van die infrastruktuur vir watervoorsiening in Hartbeespoort drasties verswak het. Dit lei daartoe dat die watertoevoer na die gemeenskap gereeld afgesny word sodat die infrastruktuur herstel kan word. Die waterkar gaan dus gebruik word om water te voorsien en om brande te blus,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die sukses en volhoubaarheid van die projek maak staat op die gemeenskap se betrokkenheid. Ons doen daarom ’n beroep op die gemeenskap in Hartbeespoort om AfriForum se tak te ondersteun deur ‘Hartbeespoort’ na 45351 (R1) te SMS. Mense met toegang tot boorgatwater kan veral help in noodsituasies deur die tak in kennis te stel,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings