AfriForum se Hartbeespoort-tak gaan voort met opknappingswerk by Laerskool De Kroon


Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het vir die afgelope vyf weke die Laerskool De Kroon in Brits onder sy vlerk geneem en onder meer ou lugversorgers herstel en nuwes aangekoop.
Op 3 Maart is rubbermatte ook aan die skool geskenk en geïnstalleer, waarna daar begin is om klaskamers uit te verf. Die opknappingsprojek duur dus nog voort aangesien die skool binne én buite geverf gaan word. Gemeenskapslede moet gevolglik kennis neem dat alle hulp in dié verband waardeer sal word.

“Ons het hierdie skool geïdentifiseer nadat verskeie onderwysers vertel het dat die temperatuur in hul klaskamers tot en met 41°C styg tydens klas-ure en dit vir die kinders ontsettend moeilik maak om hul konsentrasie te behou,” sê Fanie Cupro, voorsitter van AfriForum se Hartbeespoort-tak.
“’n Gunstige en gesonde omgewing is belangrik vir kwaliteitonderrig om plaas te vind, asook sodat leerders kan floreer,” sê Charné Blignaut, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico.

Foto’s aangeheg: Vrywilligers soos Marlene Kuhn (Foto 1) en Gerrie Maritz (voor die skryfbord en met sy rug na die kamera op Foto 2) het gehelp met opknappingswerk by die skool.

Soortgelyke plasings