|

AfriForum se Heidelberg-buurtwag neem verdagte in hegtenis en kry volwaardige lugvleuel

AfriForum se Heidelberg-buurtwag, wat in Augustus gestig is, het die afgelope week sukses behaal deur saam met die SAPD te werk om ’n verdagte in hegtenis te neem. Dié verdagte is in verband met voertuigdiefstal en verskeie ander klagtes gesoek.

Dit volg nadat die buurtwag inligting by die gemeenskap ontvang het oor ’n verdagte persoon en met verdere ondersoek is vasgestel dat daar ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die verdagte is. Die SAPD is kort daarna in kennis gestel en ’n aksieplan is spoedig beraam om die verdagte vas te trek.

“Dit is hoe ’n gemeenskap, buurtwag en die SAPD moet saamwerk; onderlinge vertroue lei daartoe dat sulke suksesse behaal word,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die noordstreek.

Dié buurtwag het vandeesweek ook hul hulpbronne verder versterk deur ’n lugvleuel op die been te bring. Adriaan Kilian, ’n gemeenskapslid en kommersiële vlieënier, het sy privaat vliegtuig beskikbaar gestel sodat AfriForum se Heidelberg-buurtwag dit in tye van nood kan gebruik. Hierdie noodsituasies sluit onder meer in om hulp aan die SAPD te verleen met die opspoor van vermiste persone asook tydens plaasaanvalle en onlustebeheer.

“Hierdie is werklik ’n groot mylpaal vir dié nuwe buurtwag. Ons wil Adriaan graag hiervoor bedank. So word ons gemeenskappe sterker,” sê Hemmens.

“Elke klein bietjie hulp van gemeenskapslede word gebruik om hierdie tipe suksesse te verseker. Ons wil graag elke lid wat betrokke is, bedank,” sê Shalto Schoeman, voorsitter van AfriForum se Heidelberg-buurtwag.

Raak vandag nog by AfriForum se Heidelberg-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings