AfriForum se Helderbergkom-tak bedank voorman vir puik afvalbestuur en diens


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op Maandag 10 Junie 2019 ’n sertifikaat aan Endriena Johnson, voorman van Gordonsbaai Vasteafval-aflaaifasiliteit, oorhandig en haar geloof vir haar uitmuntende diens en goeie bestuur van hierdie terrein. Die organisasie het ook die werknemers van die terrein met pizza en koeldrank vir middagete verras.

Dit volg nadat AfriForum vroeër vanjaar ’n nasionale vullisterreinoudit gedoen het waartydens 127 vullisterreine geoudit is. In die Wes-Kaap het veral drie terreine uitgestaan, waarvan die Gordonsbaai Vasteafval-aflaaifasiliteit een is.
Streng toegangsbeheer word by dié terrein toegepas en rommel word by die hek nagegaan om seker te maak dat dit toelaatbaar is en ook weer voordat dit afgelaai word. Rommel wat nie aanvaar word nie word na die Athlone-vullisoorlaaistasie (individue) of die Vissershok-aflaaistasie (ondernemings) verwys.

“Dit is vir my belangrik om te lei deur my voorbeeld, seker te maak dat elkeen in my span gewaardeer voel en weet dat ek hulle vertrou. Dit hou my span gemotiveerd. Ek werk saam met my span en probeer altyd help waar ek kan soos om byvoorbeeld by die hek met sekuriteit te help indien daar ’n tekort aan personeel is,” sê Johnson.
“Dit is werklik ’n riem onder die hart om te sien hoe Johnson die terrein en haar personeel bestuur. Sy is ’n voorbeeld vir soveel ander en stel die standaard vir haar vullisterrein baie hoog. Sy behoort erkenning te ontvang vir die bydrae wat sy aan die gemeenskap lewer,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak betrokke by AfriForum se Helderbergkom-tak: SMS “Helderbergkom” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings