|

AfriForum se Helderbergkom-tak belê in jeug se toekoms

Die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak het in September vier watertenks van 2 200 liter elk vir Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-sentrum in die Strand aangekoop. Die installasie van die tenks stel die sentrum nou in staat om 8 800 liter reënwater te berg.

Dit volg nadat die Helderbergkom-tak ook in Augustus vanjaar gesorg het dat ’n stukkende geiser by die Ons Plek-sentrum vervang is.

“Ons wil voorkom dat reënwater verlore gaan en die sentrum inrig vir die volgende reën­seisoen, sodat elke druppel reënwater opgevang word,” sê Marésa Visser, voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak. Joey Lötter, bestuurder van die Ons Plek-sentrum, het met kinders gesels oor die belangrikheid van skaars natuurlike hulpbronne soos water. Sy het ook waterbesparingswenke met hulle gedeel as deel van die projek.

Die vier tenks is gratis deur Boerebedryf (Edms) Bpk geïnstalleer. “Ons is dankbaar vir organisasies soos Boerebedryf wat help bou aan die toekoms van die jeug,” sluit Visser af.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Helderbergkom-tak en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za of SMS “Helderbergkom” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings