|

AfriForum se Helderbergkom-tak plant bome vir boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Helderbergkom het op 29 September witstinkhoutbome by Somerset-Wes Primêre Skool en Gloria Botha Skool geplant as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaand.

“Dit is ’n voorreg om betrokke te kon wees by hierdie skole tydens boomplantmaand. Met aksies soos hierdie skep AfriForum bewustheid by kinders om ook na hulle natuurlike omgewing om te sien,” sê Hans Minnie, AfriForum se omgewingsakeportefeuljebeampte by die Helderbergkom-tak.

“Dit was lekker om te sien hoe ywerig die skoliere help plant en ook op hierdie manier ’n verskil maak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland. “Die Helderbergkom is bekend vir sy natuurlike prag en ons is dankbaar dat ons ook kon bydra daartoe met die mooi bome wat geplant is.”

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. SMS “Helderbergkom” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings