AfriForum se Hennopsrivier-buurtwag trek misdadiger vas


AfriForum se Hennopsrivier-buurtwag het op 7 November 2017 ’n misdadiger met die gebruik van hul nuwe veiligheidstoerusting vasgetrek.
Seinkameras wat waarskuwings stuur sodra dit beweging bespeur is op strategiese plekke in die gebied gemonteer. Dié kamerastelsel het ’n kennisgewing na die buurtwag gestuur toe dit ’n betreder op ’n plot in die gebied opgemerk het. Die buurtwag het vinnig gereageer en die verdagte gevang, waarna hy deur die polisie gearresteer is.

“Die tegnologie wat ons tot ons beskikking het, help ons om misdaad doeltreffend te beveg,” sê Izak Pieters, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Hennopsrivier-tak.
“Dit is belangrik dat ’n buurtwag elke moontlike middel tot hul beskikking gebruik om misdaad te bekamp. Toerusting soos hierdie is daarom kardinaal tot die voorkoming en bevegting van misdaad. Ons sal ook voortdurend nuwe projekte in samewerking met die polisie aanpak om misdaad in ons dorpe hok te slaan,” sê Lambert de Klerk, distrikskoördineer vir AfriForum in Gauteng-Noord.

AfriForum doen ’n beroep op die verskeie gemeenskappe in Tshwane Metro om by die plaaslike takke betrokke te raak en aktief deel te neem aan die aktiwiteite van die buurtwagte. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos aan lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings