|

AFRIFORUM SE HERMANUS-BUURTWAG HELP SAPD MET INHEGTENISNEMING VAN TWEE VERMEENDE ROWERS

AfriForum se Alfa-buurtwag, wat deel uitmaak van die organisasie se Overstrand-tak, het op 16 November die plaaslike polisie gehelp om twee vermeende rowers in hegtenis te neem.

Die buurtwag het om 14:06 gereageer op ’n noodboodskap op die buurtwag se WhatsApp-groep wat hul meegedeel het dat twee vermeende rowers probeer het om ’n motor by Ford Hermanus te steel. Nadat die twee vermeende rowers gekonfronteer is, het hul in ’n wit Chevrolet in die rigting van Stanford gevlug.

Die SAPD en alle veiligheidsrolspelers is onmiddellik in kennis gestel en die twee verdagtes is ná ’n jaagtog om 15:45 in die Stanford-omgewing in hegtenis geneem. Die SAPD het ook bevestig dat die voertuig waarin die twee rowers gevlug het ’n gesteelde voertuig is en dat die verdagtes ’n lang kriminele rekord het.

“Dit is lekker om te sien hoe die gemeenskap en die verskillende veiligheidsgroeperings met die SAPD kan saamwerk om sodoende misdadigers aan die pen te laat ry en ons gemeenskappe te beveilig,” sê Lourens Theron, AfriForum se Alfa-buurtwagleier.

Om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak SMS “Veilig” na 45353.

Soortgelyke plasings