AfriForum se Hertzogville-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Hertzogville het ’n swartkareeboom by die Cheeky Chick-restaurant in die dorp geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as net ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en Tiekie Dercksen van die Cheeky Chick-restaurant onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.
 

Soortgelyke plasings