|

AfriForum se Hessekwa-buurtwagte verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se Hessekwa-buurtwagte en -plaaswag het op 1 November 2019 begin met dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie wat tot 15 Desember 2019 sal voortduur.

AfriForum het dié nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoësigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

Die AfriForum-buurtwagte in Riversdal en Stilbaai, asook die Goukou-plaaswag het tydens hulle beveiligingsaksies 14 379 km in 823 manure afgelê deur gebruik te maak van 266 voertuie. Altesaam 409 patrolleerders het aan die patrollies deelgeneem waartydens hulle op 13 voorvalle gereageer het. Van die voorvalle het ’n motorongeluk, veldbrande en die arrestasie van ’n persoon wat vermoedelik in besit van gesteelde goedere was, ingesluit.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. Dit ontmoedig misdadigers om voort te gaan met hul onwettige aktiwiteite. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die suidstreek.

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul omgewing te beveilig,” sê Johan Crous, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Hessekwa-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings