|

AfriForum se Hessekwa-tak behaal sukses in samewerking met SAPD

Die AfriForum-tak in Hessekwa se buurt- en plaaswagte het op 17 September 2020 in samewerking met die SAPD in Riversdal ’n vermeende inbreker in hegtenis geneem.

Die SAPD het Johan Crous, voorsitter van die Hessekwa-buurtwag, omstreeks 07:30 op dié Donderdagoggend om hulp genader nadat ’n soektog na die verdagte die vorige dag onsuksesvol was. Crous het die Albertinia- en die Riversdal-buurtwag se reaksiespanne ontbied om aan die soektog deel te neem. Een van AfriForum se hommeltuie is ook ontplooi.

Viertrekvoertuie en die SAPD se honde-eenheid is ingespan tydens ’n soektog in die Brandrivier-omgewing. Die verdagte is verskeie kere opgemerk, maar hy kon weens die ruwe, uitgestrekte terrein elke keer weer verdwyn. Teen skemer het die SAPD onttrek, hoewel lede van die AfriForum-reaksiespanne agtergebly het.

Die verdagte het teen vroegaand weer sy verskyning gemaak en deur AfriForum se reaksiespanne in hegtenis geneem. Hy is daarna aan die SAPD oorhandig.

“Dié suksesvolle inhegtenisname is ’n baie goeie voorbeeld van wat ons kan vermag as ons saamwerk. Ons wil graag vir kapt. January en haar span bedank vir die vertroue in ons AfriForum-strukture. Dit was vir ons bemoedigend om te ervaar hoe sukses op voetsoolvlak behaal kan word as ons saam met die SAPD werk en ons gesamentlike vermoë kan inspan om ’n verskil te maak,” sê Crous.

“Vir AfriForum is samewerking met die SAPD deurslaggewend en tot voordeel van almal in die gemeenskap. Ons bedank die SAPD in Riversdal, wat aan ons die geleentheid gebied het om daad by woord te voeg. Mag dit die weg baan vir nog vele suksesverhale in die toekoms,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se Hessekwa-tak betrokke: SMS “Hessekwa” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings