|

AfriForum se Hessekwa-tak neem deel aan nasionale massapatrollie

Die AfriForum-tak in Hessekwa se buurt- en plaaswagte het op 18 September aan die nasionale massapatrollie deelgeneem wat regoor die land deur AfriForum se veiligheidstrukture aangepak is.

Die massapatrollies word verskeie kere deur die loop van die jaar aangebied en die doel is om die waarde van proaktiewe deelname aan gebiedsbeskerming aan gemeenskappe uit te lig. ’n Boodskap word ook aan misdadigers gestuur dat gewone burgers nie kriminele aktiwiteite duld nie en self sal inspring om die polisie en ander rolspelers in die stryd teen misdaad in gemeenskappe by te staan.

Lede van die Riversdal Sentraal-buurtwag, die Aalwynfleur-buurtwag asook die Albertinia-plaaswag was betrokke. ’n Gesamentlike operasionele sentrum is op die been gebring by die N.G. Kerk Moedergemeente se kerksaal. Die sentrum is deur vrywilligers beman en die massapatrollie is ook daarvandaan gekoördineer. Die polisie was ook by die patrollie betrokke wat omstreeks 18:00 afgeskop en tot 04:00 geduur het.

Só lyk die statistiek vir die Hessekwa-distrik se massapatrollie:

  • 40 AfriForum-lede het deelgeneem
  • 22 voertuie is gebruik
  • 2002,4 km is in totaal afgelê

Johan Crous, voorsitter van die Hessekwa-buurtwag asook Johan Wessels, voorsitter van die Albertinia-plaaswag was aan die stuur van sake gewees.

“Dit was weereens ’n riem onder die hart om te sien hoe ons lede hand opsteek om hul deel te doen wanneer daarvoor gevra word. Ons wil almal veilig wees en ook daardie veiligheid vir ons gesinne bied. Daarom is hierdie tipe aksies so belangrik. ’n Woord van dank aan elkeen wat deelgeneem het, ook aan ons plaaslike SAPD vir hul ondersteuning. Ons werk graag saam aan gemeenskapveiligheidskwessies,” sê Crous.

“Die Hessekwa-gemeenskap en spesifiek AfriForum se veiligheidstrukture het ’n uitstekende gesindheid en is toegewyd. Baie dankie aan ieder en elk vir hul deelname. Saam is ons soveel sterker,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se Hessekwa-tak betrokke: SMS “Hessekwa” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings