| |

AfriForum se Jeffreysbaai-tak kry nóg ’n aartappelskenking

AfriForum se Jeffreysbaai-tak het met die hulp van hul voorsitter Dries du Preez ’n verdere skenking van 28 ton aartappels van die Vaalharts-besproeiingskema naby Christiana ontvang. Soos met die eerste skenking het die tak weer die vervoerkoste betaal.

Die nuutste vrag is op 13 Mei 2020 afgelaai. Altesaam 55 ton aartappels is tot dusver geskenk. Na beraming is die waarde van die twee vragte, wat die vervoer insluit, R250 000. Verskeie gemeenskapsgebaseerde liefdadigheidsorganisasies soos The Bay Pasta Co. en Let’s feed Jbay, asook die munisipale voedingsprogramme en Kerkgroepe sal ook soos voorheen by die skenking baat vind.

“Toe my boerevriende van Christiana laat weet dat hul nóg ’n vrag aartappels aan AfriForum se Jeffreysbaai-tak wil skenk, het ons nie ’n oomblik gehuiwer om die fondse beskikbaar te stel om dit na Jeffreysbaai te vervoer nie. Net soos die res van Suid-Afrika, word Jeffreysbaai ook lam gelê deur die COVID-19-pandemie. Dit is die armstes van die armes wat die ergste getref word. Daarom het ons ingespring en met hierdie skenking ons toewyding aan die hele gemeenskap onderstreep,” sê Du Preez.

“AfriForum sien die voedselnood tydens die staat van inperking raak. As verantwoordelike landburgers sien ons hoe ons takke en lede oral skouer aan die wiel sit om ons naaste te help. Dit bewys dat AfriForum vinnig en doeltreffend op ’n krisis in ons gemeenskappe kan reageer en ’n daadwerklike verskil kan maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se Jeffreysbaai-tak betrokke: SMS “Jeffreysbaai” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings