|

AfriForum se Jeffreysbaai-tak werk saam met Kouga Munisipaliteit om pad te beveilig

Die AfriForum-tak in Jeffreysbaai het onlangs kragte saamgesnoer met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit om straatligte op die toegangsroete vanaf Jeffreysbaai na Astonbaai en Paradysstrand op te rig om sodoende hierdie roete veiliger te maak. Hierdie projek volg op ’n samewerkingsooreenkoms wat tussen AfriForum en die Kouga Plaaslike Munisipaliteit gesluit is.

Die AfriForum-tak en munisipaliteit het reeds in die verlede saamgewerk om sowat 1 500 m se aluminiumkabels op dié pad te installeer. Hierdie projek is onder leiding van Theo Madatt en Ndumisa Nongcaula aangepak met insette vanaf Paul Eloff van AfriForum se Jeffreysbaai-tak. Aluminiumkabels het geen herverkoopwaarde nie, daarom is dit ideaal vir hierdie doel.

“AfriForum beywer hulself om gemeenskappe te bevorder. Dit is ook vir daardie rede dat ons besluit het om hierdie projek aan te pak. Hierdie pad was werklik snags ’n gevaar vir padgebruikers en hier was al in die verlede ’n paar noodlottige ongelukke gewees. Ons vertrou dat hierdie projek ’n rol daarin sal speel dat hierdie pad bietjie veiliger is om snags te gebruik,” sê Fanus Heystek, AfriForum se takvoorsitter in Jeffreysbaai.

AfriForum se Jeffreysbaai-tak het die projek van stapel gestuur en ’n bedrag van R90 000 is deur AfriForum beskikbaar gestel om die nodige materiaal en toerusting aan te koop. “Die Jeffreysbaai-tak werk hard daaraan om ’n goeie verhouding te bou en te handhaaf met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit. Hierdie goeie verhouding het al gelei tot verskeie suksesvolle projekte wat tot voordeel van die gemeenskap strek,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap.

Die AfriForum-tak beoog om nog projekte saam met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit aan te pak en is tans met hulle in gesprek om ’n boorgat te laat sink daar waar waternood die grootste is.

Raak betrokke by die AfriForum-tak in Jeffreysbaai. SMS “Jeffreysbaai” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings