|

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak maak groenstrook skoon

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 5 November 2021 ’n skoonmaakprojek by die groenstrook tussen Sydney- en Van der Stelstraat in Bellville van stapel gestuur om ’n skoner omgewing vir inwoners te skep en te help dat die woonbuurt nie agteruitgaan nie.

Die projek het gevolg nadat die tak reeds twee soortgelyke skoonmaakprojekte in die noordelike voorstede van Kaapstad aangepak het. Die tak het ongeveer sewe swart sakke en twee swart rommelblikke opgetel en weggery.

“Ons is dankbaar vir elke lid se bydraes wat hierdie werk moontlik maak. AfriForum se Kaapstad-Noord-tak sal aanhou om probleme in die area op te los en druk toe te pas waar nodig,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Volgens Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, is hierdie aksies ’n sprekende voorbeeld van gemeenskappe wat omgee vir hul omgewing en vrywilligers wat elke dag hul tyd opoffer om die gemeenskap se belange te bevorder.

“Die Kaap is besonders geseënd met ’n pragtige omgewing en skoonmaakprojekte soos hierdie dra by om ons woonbuurte skoon en veilig te hou,” sluit Van Heerden af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en deel te word van die oplossing. Sluit vandag nog by AfriForum se Kaapstad-Noord-tak aan: SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings