|

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak plant bome in Ysterhoutparkie

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 1 Oktober 2021 vier witstinkhoutbome in samewerking met die Blommendal Broken Window-projekspan in die Ysterhoutparkie geplant.

Dié boomplantprojek volg nadat die Kaapstad-Noord-tak vroeër 17 witstinkhoutbome aan die gemeenskap in Blommendal geskenk het as voortsetting van die projek waar ’n groep inwoners van Blommendal besluit het om self in te spring en hul buurt te verfraai. Die Kaapse Metro het vroeër gehelp om die gate vir die bome te grou en die ander 13 witstinkhoutbome in vier ander parkies in Blommendal te plant.

Die gemeenskap het ook die geleentheid gehad om stalletjies met allerlei lekkernye en benodighede uit te stal en te verkoop. Die Broken Window-projekspan het ook worsbroodjies verkoop en die opbrengs hiervan gaan aangewend word vir die woonbuurt se derde ingang se naambord in Koraalboomstraat.

“Die Ysterhoutparkie is al geruime tyd bekend vir kinders wat balskop, fietsry en op die parkie se speelapparate speel en dit was lekker om die parkie op dié manier verder te verfraai. Ons wil weer eens aan elkeen van ons borge baie dankie sê vir hulle bydrae. Baie dankie aan elkeen wat by die stalletjies gewerk het en gebraai het. Dit was ’n feestelike atmosfeer,” sê Eugene Grobler, koördineerder van die Broken Window-projekspan.

“Dit is ’n voorreg om van AfriForum se kant af by die projek betrokke te raak. Die gemeenskap se betrokkenheid by die projek kan as voorbeeld dien van die krag van doodgewone inwoners wat besluit om ’n verskil in hul buurt te maak. Dit dien as ’n voorbeeld vir ander woonbuurte in die noordelike voorstede van Kaapstad,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

“Ons beplan om die projek verder in Oktober voort te sit deur die speelapparate in die vyf parke in Blommendal af te skuur en oor te verf en ook om bankies in die parke te installeer waar gesinne kan sit om die buitelug te geniet,” sluit Van Zyl af.  Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte van die tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings