|

AfriForum se Kamieskroon-tak pas druk toe vir lopende water

Inwoners van Kamieskroon gaan binnekort weer water in hul krane hê nadat die Kamiesberg-munisipaliteit die dorp se waterpompe, pyplyne en boorgate herstel het. Dit volg nadat AfriForum se Kamieskroon-tak talle briewe aan die munisipaliteit gerig het en verskeie vergaderings versoek het sodat die munisipaliteit die waterprobleem oplos.

AfriForum het ook op 27 Maart 2020 ’n brief aan Lindiwe Sisulu, Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, gerig om haar departement dringend te versoek om tydens die COVID-19-pandemie aandag te gee aan verskeie waterkwessies waaronder gemeenskappe soos Kamieskroon gebuk gaan.

Die herstelwerk aan die watertoevoer wat op 14 April 2020 begin is, is op 31 Mei afgehandel en inwoners sal vir die eerste keer in byna vier jaar weer heeltyds lopende water hê.

“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg en veral nou tydens die pandemie is dit uiters noodsaaklik dat almal toegang tot skoon water moet hê. AfriForum is verheug dat Kamieskroon se inwoners weer water gaan hê en sal aanhou druk toepas om toe te sien dat munisipaliteite nie hul pligte versuim nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Raak betrokke by AfriForum se Kamieskroon-tak. Jy kan help om ’n verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Kamieskroon” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings