AfriForum se Kathu-buurtwag help om brand te verhoed


AfriForum se Kathu-buurtwag het danksy vinnige optrede gehelp om te verhoed dat ’n huis op 30 Augustus afbrand.
Die AfriForum-buurtwagbeheerkamer het ’n oproep vanuit die gemeenskap ontvang oor rook wat by ’n huis in Kokkewietstraat gewaar is. Die beheerkamer het lede na die adres gestuur, wat bevestig het dat daar wel rook by ’n venster uitborrel. Daar is opgemerk dat ’n matras in een van die kamers aan die brand was. Te danke aan die vinnige optrede van die buurtwag en JWC Sekuriteit kon hulle ’n tuinslang gebruik om die brandende matras te blus. Hoewel die brandweer ook ontbied is, was alles onder beheer toe hulle daar aankom.

“Ons is dankbaar vir die hulp en ondersteuning uit die gemeenskap wat bereid is om saam te staan en ’n probleem aan te pak,” sê Johan Snyman, voorsitter van AfriForum se Kathu-tak.
“Gemeenskappe moet self vir hul veiligheid verantwoordelikheid neem en in tye van nood saamstaan. AfriForum se Kathu-buurtwag werk nou met JWC Sekuriteit saam en is baie opgewonde oor die goeie spanwerk,” sê Gerhard van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kathu-buurtwag.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings