| |

AfriForum se Keimoes-tak neem aan boomplantmaandprojek deel

Die AfriForum-tak in Keimoes het van 15 tot 26 September verskeie boomspesies geplant ter viering van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Die volgende spesies is onder meer geplant: Olienhoutboom, kareeboom, swartebbehoutboom, Karooboerboonboom, wilgerboom en Johannesbroodboom. Altesaam 119 bome is by nege laerskole in die gebied geplant en ’n verdere 25 bome by twee kerke.

Die skole waar die bome geplant is sluit in Laerskool Soverby, Vyebos-Eiland Primêre Skool, Loxtonvale Primêre Skool, Laerskool Currieskamp, Keimoes RK Primêre Skool, Keimoes RK Intermediêre Skool en Neilersdrift Intermediêre Skool. Die twee kerke waar bome geplant is, is House of Broken Hearts en die Verenigde Gereformeerde Kerk.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Keimoes onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

AfriForum se Keimoes-tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms: SMS “Keimoes” na 32532 (R1) en sluit vandag nog by dié tak aan.

Soortgelyke plasings