|

AfriForum se Keimoes-tak sit volhoubare skoonmaakprojek voort

Die AfriForum-tak in Keimoes het gedurende Januarie 2022 hulle volhoubare skoonmaakprojek voortgesit deur die hoofstraat en die Waterwiel skoon te maak en te beveilig.

Die tak is reeds vir die afgelope ses maande doenig met hierdie volhoubare projek wat die weeklikse skoonmaak van spesifieke areas in die dorp behels. Hierdie projek volg ná die tak verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang het oor die toestand van die dorp en die munisipaliteit wat versuim om die dorp skoon te hou .

Tydens hierdie aksie het die tak ook die asblikke skoongemaak, gras gesny langs die sypaadjies en die bome is gesnoei. Die toiletgeriewe oorkant die Waterwiel word ook deur die tak onderhou sodat dit netjies is vir toeriste en die gemeenskap wat hierdie terrein besoek.

“Ons wil ’n verskil in die dorp maak en elke inwoner van Keimoes het die reg tot ’n veilige en skoon dorp. Die munisipaliteit ontneem die inwoners van hierdie regte deur nie hul basiese verantwoordelikhede na te kom nie,” sê Kobus Pool, AfriForum se takvoorsitter in Keimoes.

“Dit is vir ons belangrik om die gemeenskap betrokke te kry by projekte soos hierdie om hoop te skep en te wys tot wat ’n gemeenskap in staat is as hulle saam staan,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350  (R1).

Soortgelyke plasings