|

AfriForum se Keimoes-tak vervang gesteelde kennisgewingborde

AfriForum se Keimoes-tak het op 23 April hul volhoubare projek voortgesit deur die hoofstraat, Waterwiel en toeriste toilette skoon te maak. Die tak het ook die gesteelde kennisgewingborde, wat aandui dat rommel in die asblikke hoort, vervang.

Die nuwe kennisgewingborde is deur die tak aangekoop en opgerig, een by die Waterwiel en die tweede een by Hoërskool Keimoes.

Hierdie tak is reeds vir meer as ’n jaar lank besig met hierdie volhoubare skoonmaakprojek wat behels dat die hoofstraat en Waterwiel skoongemaak word en beveilig is, die asblikke word weekliks leeg gemaak en die toilette oorkant die Waterwiel, wat deur toeriste gebruik word, word ook deurlopend skoongemaak.

“Ons wil graag ’n verskil maak in die dorp en bydra daartoe dat elke inwoner van Keimoes se reg tot ’n veilige en skoon omgewing aan voldoen word. Hoewel aktiwiteite soos hierdie die verantwoordelikheid van die munisipaliteit is het ons gesien dat ons nie op hulle kan staatmaak om hierdie basiese dienste te verrig nie, daarom berus die verantwoordelikheid op ons elkeen om ons deel te doen,” sê Meisie Pool, buurtwagleier van AfriForum se Groot-Oog-buurtwag.

“Dit is belangrik om die gemeenskap te betrek by hierdie tipe projekte aangesien dit die enigste manier is om absolute verval in Keimoes te verhoed,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Noord-Kaap.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350  (R1).

Soortgelyke plasings