AfriForum se Kempton Park-buurtwag en SAPD lê beslag op alkohol en dwelms


AfriForum se Kempton Park-buurtwagprotospan het op 20 Julie 2018 gedurende die nasionale massapatrollie in samewerking met Target Sekuriteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Kempton Park ’n verdagte gearresteer vir die verkoop van onwettige alkohol en dwelmbesit in Pomona.
Dit volg nadat die protospan en die SAPD opgevolg het op inligting wat vanuit die publiek ontvang is.
Die protospan is na die verdagte se perseel, wat gedurende die nag as ’n oorstaanplek vir vragmotors dien. Die verdagte is op die perseel aangetref, waar hy alkohol sonder die nodige permit aan kliënte verkoop het. Die bestuurder van die perseel is gekontak waarna die onwettige sjebeen gesluit is, die SAPD ’n J353 uitgereik het, en die verdagte gearresteer is.
Met verdere ondersoek op die perseel het een van die protospanlede ook op dagga en kontant daarby afgekom. Die dagga en kontant is deur die SAPD gekonfiskeer en is saam met ’n aantal kaste vol alkohol na die polisiestasie geneem. Die dwelms is by die plaaslike Arwyp hospitaal geweeg en het op ’n gewig van 142,5 gram te staan gekom.

“Danksy goeie samewerking tussen die verskillende rolspelers is hierdie nog ’n bewys van voortdurende veiligheidsuksesse in Kempton Park. Ons vertrou dat kragte voortdurend saamgesnoer sal word om ons mense en gemeenskap te beveilig,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Soortgelyke plasings