|

AfriForum se Kempton Park-tak kry mobiele gesondheidsentrum om nood te verlig

 

Deur Alet Rademeyer

AfriForum en die burgerregte-waghond se Kempton Park-tak het vandag ’n mobiele gesondheidsentrum geopen wat ’n reuse verskil in die lewens van mense gaan maak wat nie geredelik toegang tot mediese sorg het nie.

Die sentrum sal basiese dienste lewer soos om pasiënte se bloeddruk neem en cholesterol- en bloedsuikervlakke te toets. ’n Span verpleegsusters wat oor jare se ervaring beskik, gaan as vrywilligers diens doen. Aptekers en dokters het ook reeds aangedui dat hulle betrokke wil raak en van hul tyd en geriewe beskikbaar sal stel.

Elna Lock, ’n verpleegsuster, sê “ons is wel afgetree, maar ons wil nog aktief wees. Ons het ’n hart vir ons mense en dis waar ons ’n verskil wil maak.”

Volgens Lock sal die werksaamhede van die sentrum grootliks daarop gemik wees om voorkomend op te tree en vroegtydig hulp te verleen om te voorkom dat bejaardes na hospitale moet gaan. Die dienste van ’n maatskaplike werker sal ook beskikbaar wees sodat daar ook optimaal na die geestesgesondheid van mense gekyk kan word.

Dr. Eugene Brink, strategiese bestuurder by AfriForum, meen gegewe die verval van die openbare gesondheidsdienste en staatshospitale, is ’n alternatief vir gemeenskappe nou van kardinale belang. “Ons beleef van die uitdagendste tye in die geskiedenis van die land. Openbare gesondheidsorg is in ’n haglike toestand. Pasiënte sterf weens nalatigheid in hospitale, terwyl gesondheidsdepartemente se finansies beroerd is.

“Mense moet toegang tot mediese sorg hê en hulle moet ook ’n keuse kan hê oor waar hulle dit wil kry. Net 17% van Suid-Afrikaners behoort aan ’n siekefonds en gedurende COVID-19 was dit baie duidelik dat die ANC-regering die privaat gesondheidsektor en privaat hospitale wil nasionaliseer. Gemeenskappe sal nou self met ’n oplossing vorendag moet kom.”

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê daar is pionierswerk met die oprigting van die sentrum gedoen. “Hierdie is ’n bewys van wat gedoen kan word as mense opstaan en hande vat om nie meer afhanklik van die staat te wees nie.”

Jan Vermaak, voorsitter van die Kempton Park-tak meen die sentrum gaan ’n baie groot verskil in die gemeenskap maak. “Dit is ’n baken van hoop en die begin van die verwesenliking van ’n droom.”

Die mobiele sentrum sal in die week onder meer by ’n ouetehuis en ’n kerk beskikbaar wees om dienste aan die gemeenskap te lewer.

Soortgelyke plasings